Augustus

Daar’s melancholie in die Augustuswind, veral hier op die Hoëveld. Dis ‘n sameswering deur die stof van die ou myn-slikdamme, rollende koeldrank blikke, tollende plastiek sakke en die histerie van verkeer sodat die duikweg nog donkerder is, die wag by die kruising meer bedroewend lyk in sy lang swart jas en die taxi’s traer ry oor die rooilig.

Lees voort

Droom Oor Droom

Drome is die Wiskunde van jou emosionele herinneringe.

Projeksies en die Dame met die Parasol

In Wiskunde speel ons soms met Vektor Algebra. Een van die onderwerpe is om te kyk na die parallelle komponent van een vektor op ’n ander (die ander een moet groter as nul wees). Amper soos die skaduwee wat een vektor op ’n ander gooi. Dít, in Wiskunde, is wat ons ’n vektor projeksie noem. As die vektore egter reghoekig (of haaks soos my oupa altyd gesê het) met mekaar is, dan verdwyn die skaduwee. Soos ’n paal wat pen regop staan en geen skaduwee gooi twaalfuur die middag nie.

Drome, soos Wiskunde, is ook projeksies. Dis wanneer jou herinneringe geprosesseer word en die onderbewussyn beelde skep (projekteer) om die herinneringe te visualiseer. Net die nodige. Net genoeg om die herinneringe weer te herroep en het dus gewoonlik ’n tekort aan detail soos die gesigte van mense of spesifieke plekke waar die droom afspeel en ook dat die droom, soos ’n Chekhov verhaal, in die middel van ’n groter gebeurtenis begin en dan weer te eindig met ’n geïnsinueerde ellipses – en so gaan dit aan. ’n Verhaal wat nêrens begin en nêrens eindig. Ek kan onthou hoe ek as sesjarige my ma eendag gevra het: Hoe weet ek dat ek wakker is en dat ek nie nog besig is met laasnag se droom nie? Deesdae vra ek: Is ek wel wakker maar steeds in laasnag se droom?

Lees voort

Die Restaurant

Die stad is ‘n dier met buie. ‘n Oerdier wat ‘n mens verswelg en jou deel maak van hom sodat die definitiewe lyn waar jy ophou en die stad begin, vervaag. Hier word jy deel van ‘n groter geheel, ‘n chromosoom wat saam met derduisende ander die DNA dra deur sy betonskelet. Die kollektiewe effek van elke individu se daaglikse bestaan skep ‘n enkele groot wese, ‘n saamgestelde bewustheid wat groter is as die somtotaal van al die individue saam.

Lees voort

Wietz (Jr) Matrikuleer

Dit was sommer nou die dag nog, toe daai blou baba sommer so aan die kop deur die Keiser-chirurg so uit sy ma gepluk word. ’n Blou rubber dingetjie wat sy eerste kreun-teug van hierdie wêreld se lug in sy longe intrek en toe laat waai met ’n geskreeu.  Alles het skielik in sy kort lewetjie verander van snoesig-warm en moeiteloos na koue en skerp lig en geraas en self-asemhaal. Hy skreeu dus.

Jy weet, soos pasgebore babas maar maak.

Nou sit daardie einste kreatuur hier langs my met sy matriek sertifikaat in sy hand. Net so. Binne ’n oogwink het die bondeltjiemens deur skooluniform jare tot gematrikuleerde gevorder. Waar is al die jare heen?

Nou’s dit weer nuwe dinge. ’n Ander soort naelstring wat geknip moet word. Die snoesige geriefsone van skoolgaan en groot mense wat presies vir jou vertel hoe jy dinge moet doen word nou weer verruil vir die koue helder lig van die grootmens wêreld.

Darem geen geskreeu hierdie keer nie.  Versigtig opgewonde ja. Kyk die dinge eers mooi deur voor hy bly raak oor die nuwe wêreld van self verantwoordelikheid.

Nou moet jy jou pad oop vind ou seun. Nou is jy een van daardie groot mense. Nou is jy die een wat ander se lewens kan beïnvloed. Nou is daar net ander mense wat raad sal gee. Jy sal geadviseer word om jou besluite te neem maar jou besluite bly jou eie. Nou moet jy doen wat jy weet wat reg is. Jy moet menseverhoudings bou en ’n mens wees op wie verhoudings gebou kan word. Jy moet weet dat elke stap wat jy nou neem ’n tree is in hierdie pad wat jy moet bou. En die beste jare van jou lewe lê nog voor.

Nou moet jy self asemhaal. Wel, amper. Pa is nog hier vir jou!

Pa is trots op jou. Wel, gedaan my seun.

Upper-Charlie

Die dag as jou kinders gebore word, kry jy, so saam met die opwinding van die nuwe aankomeling, altyd die onrustige gedagte wat soos ’n krieweling in jou agterkop opkom: Wat gaan van die kind word eendag?

Hierdie gedagte bly by jou, wel ek weet nie, miskien totdat die kind eendag 25, 30 is of dalk selfs langer.  My kinders is nou 15 en 17 en kan ek, miskien dalk ’n bietjie prematuur, vir die eerste keer vandat die blou kleintjie sy eerste asemteug gegee het begin voel hoe daardie krieweling begin verdwyn.

Lees voort

Asem in. Asem uit. En in. En uit…

Eers het dit begin met vroulief se dreigende kwaadaardigheid (gelukkig toe ‘n vals alarm) en ‘n week later braai my kar se head-gasket op die Ben Schoeman op een smeulende veertig grade, spits-verkeer middag. As ’n mens so staan daar langs die snelweg op die vyf meter wye gras strook tussen die stank van ’n riool sloot agter jou en jou kar skuins en morsdood geparkeer half in een baan van die besigste snelweg in Afrika hier voor jou, begin dinge deur jou gedagtes maal wat wissel tussen boosaardige geweld en die heimlikste verlange na my sorgelose kinderdae.

Lees voort